Ons is lief vir ons huistaal, Afrikaans
Rietvlei Vakansie Plaas is een van die historiese plase van Montagu en is mooi en gerieflik geleë, omtrent 12 km vanaf Montagu, naby die R62 op pad na Barrydale en Outshoorn.
Dit is ‘n werkende vrugte en wynplaas, waar ook met skape, beeste, pluimvee en soet rissies geboer word. Gedurende die seisoen is baie van hierdie kommoditeite beskikbaar vir ons gaste, wie die oes daarvan interresant asook smaaklik vind!
Hierdie is ‘n familieplaas, waar al die lede een of ander taak verrig, maar almal baie bereid is om ons gaste te woord te staan of behulpsaam te wees. Ons praat Afrikaans en Engels, verstaan Nederlands redelik, en mag selfs met ‘n paar Duitse woorde saamstem!
AKTIWITEITE:
Die plaas is nog een van die min wegbreekplekke vir die besige stadsmense waar hul in veiligheid in die berge of landerye kan rondstap. Kom ry fiets op die verskeie stap en bergfietsroetes, met pragtige natuurskoon, of vang vis by die groot plaasdam.
Die Klein Karoo weer is meestal heerlik en vriendelik en indien partymaal te warm, is daar ‘n baie ruim swembad om in af te koel. As dit in die winter soms koud is, het al die verskillende wooneenhede gesellige kaggels. Daar is braai fasiliteite by elke eenheid en ons voorsien een kissie hout per dag. Ekstra hout is te koop by die kantoor.
Die blommeprag gedurende die lente, asook die herfskleure is aangrypend, terwyl die soms- sneeubedekte bergpieke, asook die geurige somervrugte, al die seisoene van die jaar bekoorlik maak. Hier is ook ‘n baie groot verskeidenheid voëls, asook somtyds ‘n paar wilde velddiertjies te sien.
Die plaas is by uitstek kindervriendelik, met ‘n swaai, "foofy slide" en trampoline vir die kleingoed, asook plaas diere wat hulle kan voer met mielies wat in ’n emmertjie in die eenhede beskikbaar is.
Wanneer moontlik vermaak “Oom Frikkie” ons gaste oor die naweek met ‘n trekkerrit oor die plaas, met die een en ander leersame vertelling. Hy ry graag na die vrugteboorde om in seisoentyd dan self te kan vrugte pluk!!!
AKKOMMODASIE:
Verkeie selfsorg wooneenhede, van verskillende formaat, huisves omtrent 33 besoekers en almal is ruim van al die nodige toerusting voorsien. Ons voorsien beddegoed en handdoeke, vadoeke en skottelgoedseep, toiletpapier en ’n sepie, braaihout en blits vir die eerste vuur! Ons vra dat ons gaste hulle eie swemhanddoeke, braaitange en 2 punt proppe saambring.
Die 4 Swembad Huisies is op die werf geleë naby die omheinde swembad. Daar is groot grasperke en die dierekamp is binne loop afstand. Dit is ’n ideale opset vir ’n vriendekring om tot laat saam te kuier terwyl die kinders reeds kan gaan slaap. Daar is twee privaat tuintjies en elke huisie het 2 of 3 slaapkamers.
Die Olyfboom Huisie is op die rand van die plaaswerf geleë – 60m vanaf die swembad. Daar is een slaapkamer, ’n badkamer en 2 slaapbanke in die oop plan kombuis-sitkamer area. Die hoekbad, kaggel in die slaapkamer en privaatheid is ideaal vir 'n romantiese wegbreek.
Ongeveer 400m vanaf die plaaswerf is die Plaashuis met 4 slaapkamers en 4 badkamers, is omring met ’n klipmuur en ‘n groot grasperk. Heerlik eenkant en gerieflik ingerig!
Vir verdere Afrikaanse inligting, skakel ons gerus!!!